"How much more grievous are the consequences of anger than the cause of it." Marcus Aurelius

August 25, 2015

Beheer jou woede vir `n gesonde hart.

SKRYWER: Nicola Davies-Laubscher, Health24

Staan jy amper elke oggend met die verkeerde voet uit die bed uit op? Voel dit of jy van vroegdag tot laataand kwets en skel? Oppas, jou woede verhoog jou risiko vir hartsiektes of 'n beroerte!
Dis nou maar eenmaal so: die lewe is nie net maanskyn en rose nie, en almal van ons voel soms angstig en kwaad. Só is dit byvoorbeeld heeltemal normaal om angstig te voel voor 'n werksonderhoud of ná 'n argument, of om jou bloedig te vervies as iemand voor jou indruk in spitsverkeer. Maar as jou angs of woede buite beheer of 'n gewoonte raak, is jy in die moelikheid.

Volgens 'n onlangse studie deur Harvard Universiteit wat in 2014 in die European Heart Journal gepubliseer is, verhoog jou risiko vir 'n hartaanval, beroerte of ander kardiovaskulêre probleme drasties in die twee ure onmiddellik ná 'n woede-uitbarsting. Die Harvard-studie – en ander kenners – maak egter 'n duidelike onderskeid tussen die risiko wat met 'n enkele woede-aanval gepaardgaan en die risiko vir mense wat gereelde episodes van woede ervaar.
Moenie te veel daarin lees indien 'n emosionele uitbarsting uit pas is met hoe jy normaalweg optree nie, beaam dr. Ebrahim Chohan, 'n kliniese sielkundige van Durban. "Woede en aggressie is ongelukkig algemene maniere om deesdae op stres en uitdagings te reageer," sê hy. "Dit word egter 'n probleem wanneer dit 'n algemene reaksie op stres en angs raak."

Dr Suzette Fourie, 'n kardioloog van Kaapstad, voeg by dat selfs 'n enkele woede-uitbarsting kan lei tot 'n verhoogde risiko vir 'n hartaanval indien jy gereelde periodes van angstigheid ervaar, 'n diabeet is of onderliggende hartprobleme het.
Die kardioloog onderskei verder tussen mense wat 'n matige hoeveelheid woede ervaar, en dit met 'n toepaslike respons hanteer, en diegene wat ekstreme uitbarstings van woede ervaar of hul woede vir lang periodes onderdruk. "Mense wat oor die algemeen kwaad en aggressief is – al het hulle geen geskiedenis van hartprobleme nie – is 19% meer geneig om hartsiektes te kry as mense wat oor die algemeen rustiger is," sê sy.

Woede en die stres-respons

Die feit van die saak is dat woede, angs en aggressie ongelukkig 'n baie direkte impak op die hart het. Tydens episodes van woede en angs skei jou liggaam meer streshormone af, insluitende adrenalien en kortisone, wat 'n fisiese effek op jou hart en are het. "Jou harttempo verhoog, jou bloeddruk gaan op, jou asemhaling word vlakker en die byniere vergroot om al die ekstra hormone uit te skei. In kort, die hart en die res van die liggaam is onder stres," sê Fourie.
Fisiologies kom dit neer op die liggaam se "veg-of-vlug" respons, verduidelik Anton Böhmer, 'n kliniese sielkundige van Kaapstad. "Jou liggaam maak gereed om 'n verwagte gevaar te trotseer. In ons moderne samelewing is die gevaar egter nie 'n wilde dier wat ons gaan aanval nie, maar eerder onsekerheid oor jou werk, jou huwelik of jou toekoms."

Böhmer leer sy pasiënte tydens terapie watter effek angstigheid op die liggaam kan hê en hoe hulle beheer kan neem oor hul emosies sodat hulle logiese keuses eerder as emosionele keuses kan maak. "Angs, aggressie en depressie is alles dinge wat oorweldigend kan voel, maar jy moet leer om vir jouself te kan sê dat hierdie slegte ervarings tydelike probleme is en dat jy dit nie vir die res van jou lewe hoef te ervaar nie."
Böhmer beklemtoon dat almal van ons soms kwaad, bang en aggressief word: dit is alles tekens van ons mens-wees. "Waarteen jy wél wil waak is om opgevang te word in hierdie negatiewe emosies," sê hy. "Jy moet 'n duidelike onderskeid maak tussen jouself en die geïrriteerdheid of angstigheid. Die probleem is nie jy as persoon nie, maar die aggressiewe gedrag. Soms het mense so baie berou en verwyte oor hul optrede dat hulle eintlik met hulself baklei."

Emosies soos woede en angstigheid kan op verskillende vlakke aangespreek word, en die oplossing of terapie hang af van die oorsprong. "Angstigheid kan gekoppel word aan 'n spesifieke vrees (byvoorbeeld 'n fobie vir spinnekoppe of om in 'n vliegtuig te vlieg), maar sommige mense ly aan 'n algemene angssteuring wat beteken dat hulle oor die algemeen angstig is oor 'n wye verskeidenheid van dinge, insluitende hul toekoms, hul werk of hulself," sê Böhmer.

Soms is daar ook 'n direkte eksterne invloed tot mense se aggressie, byvoorbeeld alkohol. "Sulke mense kan byvoorbeeld heeltemal rustig en kalm wees gedurende die week, maar oor naweke, wanneer daar drank betrokke is, kan hulle aggressief raak. Die probleem is dus nie net die woede nie, maar ook die alkohol, want dit is hoe die woede geaktiveer word. Waar dit vir mense moeilik is om goeie keuses te maak onder die invloed van drank en dwelms, is dit dus beter om eerder sulke situasies te vermy."

Die effek van jou woede op ander mense

"Ons sien daagliks voorbeelde van onderliggende frustrasie wat oorspoel in woede-uitbarstings in die vorm van padwoede, gesinsgeweld, boeliegedrag en 'n afkeur in sosiale diversiteit," sê Rob Taylor, 'n lewensafrigter (" life coach") van Durban.
"Woede en aggressie is emosies, maar dit is ook aangeleerde gedrag wat dien as 'n verweer teen wat ons ervaar as bedreigings van ander mense en van ons omgewing," verduidelik Taylor. "Wanneer woede 'n permanente deel van 'n persoon se gedragspatroon word – en vloek en skel die 'normale' manier word hoe iemand met ander kommunikeer – kan dit lei tot fisiese en geestelike stres, nie net vir die persoon self nie, maar ook vir ander mense in sy of haar onmiddellike omgewing."
Almal van ons vorm deel van 'n sisteem, hetsy jou familie, of jou werkplek. "Die aggressiewe persoon kry dikwels goeie resultate by die werk, maar ons weet ook dat sulke gedrag oor tyd destruktief word," sê Taylor.

Die moderne werkplek het geweldig verander van 'n paar dekades gelede toe jy veronderstel was om jou persoonlike lewe by die huis te los as jy werk toe gaan, tot vandag waar daar meer fokus op die individu in die werksomgewing is. "Die prioriteit in die moderne werkplek is op samewerking en spanwerk," se Taylor. "Konstante frustrasie, onderliggende woede en gereelde gebruik van skel-taal is eenvoudig nie meer deel van ons definisie van 'n goeie leier nie."

Sukkel jy met negatiewe emosies en woede by die werk? Taylor stel voor dat jy jou mens-wees en hoe jy funksioneer tussen ander mense in heroënskou neem. "Raak betrokke by 'n organisasie wat heeltemal buite jou verwysingsraamwerk val, soos 'n Vigs-hospies, 'n nie-regeringsorganisasie of selfs jou plaaslike kerk se basaarkommitee – enige plek waar jy in 'n heel ander omgewing funksioneer en ander tipes gesprekke sal hê. Wanneer ons 'n beter begrip van onsself het, is dit makliker om die dinge te identifiseer wat lei tot ons angstigheid en woede."

Hoe kan ek stres en woede beter hanteer?

• Kyk na jou leefstyl: eet gesond, drink matig alkohol, kry genoeg oefening en sosialiseer met mense wat goed is vir jou.
• Kry 'n aktiwiteit wat jou help om te ontspan.
• Kry genoeg en kwaliteit slaap.
• Leer onderskei tussen logiese en emosionele keuses. En gaan dan vir die logiese keuse.
• Skep 'n voorspelbare patroon vir jou daaglikse take met genoeg blaaskanse tussen-in.
• Moenie meer werk aanvaar as wat jy kan hanteer nie.
• Begin vroegtydig werk aan jou sperdatums.
• Hou 'n dagboek waarin jy jou dag se emosies neerskryf en reflekteer gereeld daaroor.
• Doen gereeld ontspanningsoefeninge.
• Vermy konfliksituasies of middels soos drank en dwelms as dit geneig is om dit vir jou moeilik maak om goeie keuses te maak.
• Kry professionele hulp by 'n kliniese sielkundige indien jou angs of woede direk aan 'n spesifieke vrees of 'n angssteurnis gekoppel kan word, of indien dit buite beheer is. Loer ook gerus na die Anger & Stress Management Centre se webwerf, www.angerstress.com, vir meer inligting oor hulle woedehanteringskursusse wat regoor Suid-Afrika aangebied word.

Leave a Reply

The Anger & Stress Management Centre © 2020 Privacy Policy

The Anger and Stress Management Centre
Head Office:
CAPE TOWN WITH BRANCHES ALL OVER SA
ZOOM SESSIONS AVAILABLE WORLDWIDE
See 'Contact Us' above.
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram